Wie is ons?

Rhona Peens

Om ’n boek te kon skryf was reeds van kleinsaf my droom en ideaal. Die eerste keer wat ek dit hardop uitgespreek het, was toe ons die skool se biblioteek oorgedoen het en ons almal moes inspring om te help. Van veel hulp was ek nie juis op die ouderdom van tien nie en het meer gelees as wat ek gewerk het. Nadat ek een van die Keurboslaanboeke deur Stella Blakemore deurgelees het, het ek dit teen my bors vasgedruk en gesê: “Ek wil ook eendag so ’n boek skryf.”

 

Destyds was skryf nie ’n beroep volgens my skoolhoofpa nie en ek moes ’n beroep kies wat geld inbring. Ek het gevorder tot Musiekonderwyseres maar my skrywersverlange was altyd daar. Ek het ’n diploma in Skryfkuns en Joernalistiek gedoen en begin om vir koerante en tydskrifte te skryf. Toe drie van my verhale deur die destydse Brandwagpers se Uitspan gepubliseer is, terwyl ek nog studeer het, was daar geen keer aan my nie. My liefste Moekie was my grootste ondersteuner en my pa het toe ook lekker gespog.

 

Koning David vertel in Psalm 16 vers 6 (my verjaarsdag datum). “Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi.” Dit het vir my die goue ketting geword om aan vas te hou. Dit was asof my skrywerstalent ook in lieflike plekke geval het.

 

My eerste boek, ’n Pasiënt vir dokter Coché, se bekendstelling was tydens die Volksblad Kunstefees in Bloemfontein. Dit was vir my een van die groot hoogtepunte in my skrywersloopbaan. Daarvoor sal ek doktor Dan Roodt vir ewig dankbaar wees. Na ’n radio onderhoud het ek ’n opvolg, Laaste Treë, geskryf, en dit is een van my topverkopers.

 

Daaruit is Die Klein Bybeltjie gebore, 52 episodes is oor die radio uitgesaai en dit was die begin van my kinderverhale. Daar is al te saam 94 kinderverhale uitgesaai oor radiostasies. Dit is vir my so belangrik om die Bybel op die maklike manier by ons kleuters en leerders uit te kry noudat dit nie meer deur die skole aan hulle verskaf word nie. Daar is by elke boekie ’n CD beskikbaar wat lees sommer baie makliker maak. Dit word voorgelees deur die knap stemkunstenaar Karen Zeelie.

 

Die Testament het ook daaruit gevloei en ek het derde prys ontvang vir die RSG/SANLAM Dramakompetisie maar indirek het ek eerste plek behaal deur Vivlia wat toe my Uitgewer geword het. Dit is tans op die Nasionale Katalogus as voorgeskrewe werk vir Graad 10 en daar is 65,100 eksemplare tot op datum verkoop.

 

Daarna het gevolg, sewe romans nl. ’n Halssnoer vir Emma; ’n Pasiënt vir dokter Coché; Laaste Treë; ’n Roos wat verwelk; Gannalaagte; Die Skat van Carpe Diem en twee dramas, Die Testament en Slampamper.

33 Kinderverhale (Voorgeskrewe werk vir Graad R-7);

9 Leesboeke Graad R-3.

Onderwysgids Grondslagfase.

 

My passie is om mooi en interessante boeke vir kinders op skool te skryf en so ’n liefde vir ons taal en lees by hulle te kweek. Die romans is ook baie gewild by die ouers en publiek.

 

Ek was so geskok toe ek hoor dat leerders van Graad 4 nie met begrip kan lees nie. Dit het my dadelik laat besluit om my eie webwerf te kry om sodoende die boeke by die leerders uit te kry wat nie deur die skole aan hulle verskaf word nie.

 

Ek is getroud met my beste vriend, steunpilaar en geliefde Gert Peens en ons het drie talentvolle kinders, Corné, Adàne en Mariëtte. Sugnét is ons pragtige skoondogter en ons spog met ons “spierwit eiertjies” kleinkinders, Jacques-Franc Fèvriér, Maroné en Sharise Peens.

Die geskrewe woord is 'n kragtige instrument in die hand van 'n skrywer.

Corné Fèvriér

Corné, ons pragtige en talentvolle oudste dogter. Van kleinsaf was die tekens daar dat sy onderwyseres gaan word. Daar is skoolgehou vir haar poppe wat goed getugtig is wanneer hulle nie wou luister en mooi leer nie.

 

In Graad twee het ek haar eendag by die skool gaan haal en haar onderwyseres, Ina Guy, het my ingelig dat ek haar in die personeelkamer sou kry waar sy besig was om ’n seuntjie te help met sy leesles wat so bietjie gesukkel het.

 

Tale was haar gunsteling en natuurlik was kuns haar lewe. Die Cornelie-reeks wat ek geskryf het is gebaseer op gebeure uit haar laerskooljare. Adàne en Mariëtte het ook vir my baie stof tot my boeke gegee. Later het die kleinkinders bygekom.

 

In die hoërskool het Redenaars en Debat ’n liefde geword en sy was die skoolkoerant, Die Generaaltjie, se skepper en Redaktrise.

 

Haar eerste onderwyspos was in Josini, Noord Natal. Die skool was klein en het nie oor ’n groot biblioteek beskik nie. Vir lesse het sy kreatief begin om vir die leerders verhaaltjies uit die omgewing begin skryf en te illustreer.

 

Nadat ek betrokke geraak het by Vivlia het ek vir die destydse uitgewer, Moira Strydom, van Corné se pragverhaaltjies vertel. Moira was ook dadelik beïndruk en so het Corné se verhale by die skole uitgekom. Die jaarlikse tantieme word uitbetaal aan haar seun, Jacques-Franc. Haar boekies is vir my so mooi en bly aktueel.

 

Sy het agt pragtige verhale geskryf wat deur Vivlia uitgegee word by die skole. Kort voor haar dood het sy vir my sewe nuwe manuskripte gestuur en gesê ek moet dit asseblief vir Moira stuur.

Dit is ’n wonderlike nalatenskap vir haar pragtige seun.

 

Sy en Jacques-Franc is in 2008 na Sohar, in Oman, waar sy Engels by Sohar International School gaan gee het. Kleinsus Mariëtte het  reeds Kuns daar gegee. Corné en Jacques-Franc het 4 April 2017 teruggekeer na Suid-Afrika en ons moes 8 April dieselfde jaar van haar afskeid neem op die jong ouderdom van 46 jaar.

Shopping Cart